TAALTOWENAARS

Wie is die Taaltowenaars?
Die Taaltowenaars is Laerskool Swartkop se eie skryfklub. Hier gesels ons oor boeke en skrywers, speel ons skryfspeletjies en neem ons deel aan skryfkompetisies (wat GLAD nie verpligtend is nie). Wanneer die geleentheid hom voordoen, nooi ons graag skrywers, joernaliste, illustreerders, uitgewers en interessante boekkarakters om ons te besoek. Lede is welkom om voorstelle vir aktiwiteite en besoekers in te dien.

Wie mag ’n Taaltowenaar word?
Enige leerders in graad 4 – 7 wat hou van lees (want skrywers is in die eerste plek BOEKWURMS!) en wat daarvan droom om beter te leer skryf of wat graag hul skryftalent met ander wil deel.

Oor watter ander eienskappe beskik ’n Taaltowenaar?
Goeie maniere, selfdissipline en stiptelikheid: byeenkomste is kort en daarom is dit belangrik om orde te handhaaf, al het ons pret!

Wat kos lidmaatskap?
Nix, nada, nul en niks – gratis!

Waar en wanneer vergader die Taaltowenaars?
Op Maandae in die mediasentrum, direk na skool tot ongeveer 14h30, tensy ons ’n besoeker het wat net op ’n ander dag kan kom. (In so ’n geval stel ons die lede betyds in kennis.) Ons vergader 2 – 4 keer per kwartaal, afhangende van hoeveel tyd die druk buitemuurse program toelaat. Hou die skool se nuusbrief dop vir presiese inligting!

Kan Taaltowenaars merietepunte verdien?
Lede verdien kwartaalliks merietepunte vir gereelde bywoning van byeenkomste. Dié wat aan kompetisies deelneem, verdien ekstra merietepunte. Om aan die einde van die jaar in aanmerking te kom vir merietesertifikate, moet lede deur die loop van die jaar minstens agt byeenkomste bywoon.

Kom “BOEK” gerus in by ons volgende byeenkoms!